Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 19 AUGUSTUS 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

RADIOAMATEURS BENODIG SLEGS DIE HAREC-SERTIFIKAAT WANNEER HULLE OORSEE GAAN

INTEGNET OP 26 SEPTEMBER SAL NA SARL-TOEKENNINGS KYK.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM NOU OP DIE WEB

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOAMATEURS BENODIG SLEGS DIE HAREC-SERTIFIKAAT WANNEER HULLE OORSEE GAAN

Soos twee weke gelede aangekondig sal amateurs, wat die Mei Klas A-eksamen geslaag het, outomaties ’n HAREC-sertifikaat ontvang as deel van die eksamenfooi. Daar het ’n vertraging plaasgevind in die afsending van sertifikate weens ’n drukker wat onklaar geraak het. Moet asseblief nie die NARS skakel nie, die sertifikate vir Oktober 2006 en Mei 2007 sal gepos word sodra ’n nuwe drukker in werking is en van die agterstallige drukwerk afgehandel is.

Amateurs wiat in besit van die ou RAE-sertifikaat is hoef nie te vra vir die nuwe HAREC–sertifikaat tensy hulle oorsee gaan nie. Om aansoek te doen vir ’n vervangingsertifikaat moet jy ’n afskrif van jou huidige amateurradiolisensie plus ’n administrasiefooi van R50 aan die SARL stuur. Die fooi moet elektronies gestuur word. Bewys van ’n elektroniese of bankoordrag moet die aansoek vergesel.

Aangesien die uitreiking van HAREC-sertifikate deur OKOSA aan die SARL oorgedra is, is die fooi deur beide lede as nie-lede betaalbaar. Vorige prosedures word hierdeur vervang en is onmiddellik van toepassing.

INTEGNET OP 26 AUGUSTUS SAL NA SARL-TOEKENNINGS KYK.

WAZS en ander toekennings asook QSL-werking sal onder die soeklig kom gedurende volgende week se Integnet op 26 September 2007. Die gasspreker sal die SARL Toekenningsbestuurder, Tjerk Lammers, ZS6P, wees. INTEGNET sal Sondag 26 September om 20:00 op die lug wees, onmiddellik na die President se Net.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM NOU OP DIE WEB

Die SA AMSAT ruimtesimposium is nou beskikbaar op die web by www.amsat.org.za. Die simposium is deel van Ruimteweek 2007 en die herdenking van die lansering van Sputnik 1 in 1957. Dit sal gehou word by die NARS en die Sentech Konferensiesentrum op 6 Oktober 2007. Daar is ’n redelike afslag vir afgevaardigdes wat vroeg registreer. Vir gereelde opgradering van inligting oor die simposium stuur ’n e-pos aan saamsat@intekom.co.za.

NEEM JOU HANDSTEL WERK-TOE DAG

Vrydag 5 Oktober is die SARL se “Neem jou handstel saam werk-toe dag ”. Die doel van die dag is om jou kollegas en kliënte gedurende etens- en teetye, en enige ander beskikbare tyd gedurende die dag, bewus te maak van amateurradio.

Die SARL stel plakkate beskikbaar wat jy kan uitdruk en vertoon en ook om die plaaslike media te nader om nuusstories te publiseer.

Klubs word uitgenooi om die dag plaaslik bekend te stel. Stuur asseblief aan die SARL name van redakteurs van plaaslike koerante en gemeenskapsradiostasies sodat ’n mediadatabasis saamgestel kan word sodat inligting aan die plaaslike media versprei kan word. Kyk in jou plaaslike koerante en stuur die inligting aan armi@sarl.org.za met media as die onderwerphoof.

SARL-LEDEGELDBETALINGS

'n Vriendelike versoek van die SARL-tesourier is dat lede wat lidmaatskapfooie direk in die SARL-rekening inbetaal of per internet die inbetaling doen, hulle self daarvan moet vergewis dat die verwysing op die bankstaat duidelik sal aantoon deur wie die betaling gedoen is. U roepsein moet verkieslik as verwysing gebruik word. Alternatiewelik kan die inbetalingsbewys aan die kantoor gefaks by 088 011 675 2793. Sonder hierdie inligting gaan u lidmaatskapstatus in gedrang kom wanneer die databasis van die SARL binnekort opdateer word.

KOMPETISIENUUS

Die uitslae van die Durban ARK Mid-winter 80 meter sprint is bekend gemaak. Jan, ZS4JAN, is eerste met 90 punte, gevolg deur Dennis, ZS4BS, met 78 punte en John, ZS5JF, met 74 punte.

Die voorlopige uitslae van die Boland 40 Meter kompetisie is ook bekend gemaak. Theunis, ZS2EC, neem eerste plek met 97 punte, tweede was Raoul, ZS1REC, met 85 punte en Jan, ZS4JAN, in derde plek met 74 punte.

Brad, ZS5BG, het die hoogste telling in Afdeling 5 behaal en Ruaan, ZS6RMS, het die hoogste telling in Afdeling 6 behaal. Geen logstate is van Afdeling 3 ontvang nie. Die hoogste telling van 'n buurland is behaal deur Jack, V51KC, wat ook die algehele vierde plek behaal het. 21 logstate is ontvang.

Die algehele wenner ontvang 'n 2007 ARRL Antennahandboek (uitgawe 21) wat deur Kobus, ZS1DC, 'n lid van Boland ARK, geskenk is. Sertifikate sal eersdaags gepos word.

Die Boland ARK bedank all deelnemers aan die kompetisie.

Vidi, ZS1EL, het 'n sertifikaat van die ARRL ontvang vir die 6de plek in die wêreld in die 2006 ARRL 10 m-kompetisie, gemengde modus, hoë krag.

Barry, ZS2EZ, het 'n plaket ontvang van die CQ tydskrif vir Afrika wenner van die 2007 CQ WW WPX RTD kompetisie. Barry het deelgeneem as enkeloperateur, alle band, hoë krag.

Suider-Afrikaanse stasies het goed gedoen tydens die 2006 CQ WW DX foonkompetisie. In die Multi Twee klas het ZS9X 6,9 miljoen punte behaal, terwyl 3DA0WW 4,9 miljoen punte ingesamel het. In die Multi Enkel klas het ZS5ZZ 238 854 punte behaal. In die enkeloperateurklas het V51W 2,9 miljoen punte behaal. Ander deelnemers in die klas is ZS5NK, ZS1EL, ZS6BRZ en ZS1JY.

RAE

Neem asseblief kennis dat die volgende Klas B-eksamen op 23 Augustus 2007 gehou sal word. Die uitslae van hierdie eksamen sal op die SARL-webblad op ongeveer 4 September 2007 geplaas word.

Alle klubs en opleidingssentra moet kennis neem dat die sluitingsdatum vir die Oktober Klas A & B sal 20 September 2007 wees. Die eksamendatum is 18 Oktober. 2007.

KLUBNUUS

MIDLANDS AMATEURRADIOKLUB gaan amateurradio adverteer

Die Midlands Amateurradioklub, in samewerking met HAMNET, gaan ‘n radiostasie by die Underberg Boerevereniging se jaarlikse skou op Saterdag 1 September en Sondagoggend 2 September 2007 bedryf.

Hulle sal onder die roepsein van die Midlands Amateurradioklub, ZS5PMB, op die 40 m-band en op die 2 m Underberg herhaler bedrywig wees.

Wees asseblief op hierdie dae op die uitkyk vir hierdie stasie en neem deel. Dit is ‘n wonderlike geleentheid om amateurradio te bevorder.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike aktiewe vlakke gedurende 25 Augustus. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van swak 20 m openinge na Australië vanaf 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m openinge na Europa. Vir die nagwolwe is daar om 04:00 moontlike swak 80 m openinge na die Ooskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande op 40 m vir die Vuurtorings-op-die-lug aktiwiteit goed wees. Dit is nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

17 - 19 Augustus - Internasionale Vuurtoringnaweek;
23 Augustus - Klas B RAE;
1 September SARL@HOME;
1 September – Wesrand ARK Vlooimark;
1 – 2 September - Midlands Amateurradioklub, ZS5PMB, bedrywig by Underberg Boerevereniging se skou;
20 September – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Oktober RAE;
4 - 10 Oktober - Spesiale ruimteprogram;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel en uitgesaai is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003